Die Tuin van Geluk
Ek sien 'n tuin so wonderskoon:
'n Tuin waarin daar liefde woon,
Waarin die fraaiste blomme groei,
En waar die mooiste bloeisels bloei.
Ek sien 'n bankie ook daar staan,
En oor dit skyn die sagte maan.
'n Man geheel geklee in wit
Is al wat op die bankie sit.
Ek sien 'n pad van grassies sag,
En op die pad 'n meisie lag,
En stadig stap met sagte tree,
En soos die man in wit geklee.
Ek sien 'n ster wat helder blink,
En wat die paartjie naderwink.
Die Ster van liefde en geluk
Skyn in die tuin van hul geluk.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 25 April 1942